Entrance: The entrance fee is JUST R5 per person!
Date: 30 August 2025
Times:
Information: Time: Between 14h00 – 16h00! David Fourie het beslis geen
bekendstelling nodig nie. Sedert hy in 2002 sy buiging op die SA IDOLS-verhoog
gemaak het, het hy diep spore in die plaaslike musiekbedryf getrap en kan hy
spog met ’n hele rits treffers, hoogtepunte en toekennings. Hy was nog altyd ’n kreatiewe
siel, wat dit geniet om uit die boks te dink, en sy nuutste enkelsnit, ON
THE RADIO, is ’n goeie getuigskrif van hoe hy dit regkry om sy unieke
stempel af te druk op elke projek wat hy aanpak. Hierdie herskepping van die
gewilde Donna Summer-treffer, wat vervaardig is deur Marius Brouwer en Dirk van
Niekerk, kombineer elemente van soul-, disco- en popmusiek op ’n unieke en
moderne manier en sal beslis aanklank vind by diegene wat lief is vir sy
musiek. “Ek is ’n groot aanhanger van
Donna Summer en die disco-/ soul-era. Daarom het dit vir my, as musikant, baie
genot verskaf of nuwe lewe in hierdie liedjie te blaas en dit op die radio vry
te stel,”
verduidelik hy. “ON THE RADIO is natuurlik elke sanger se droom en
dit neem my terug na my kleintyd in die platteland toe ek graag my liedjies oor
die radio wou hoor.” ’n Musiekvideo van hierdie
besonderse verwerking is ook nou beskikbaar. Dit is in Johannesburg verfilm,
met Pierre Smith aan die stuur, en sluit ’n mengsel van ateljee- en
buitelug-beeldmateriaal in. “Die video vertel ’n storie van wat gebeur wanneer jy ’n
lied oor die radio hoor wat jou herinner aan ’n verhouding wat jou ’n les
geleer het, en nes jy dink jy het aan beweeg hoor jy weer iets wat alles
terugbring,” deel die musikant. “In die video word ek uitgebeeld as hierdie netjiese
sanger wat sing en klavier speel saam met die radio, asook as my growwer
getatoeëerde alter ego,” verklap hy. “Daar
is ook ’n toneel van ’n meisie wat dans op die dak en emosie weergee. Die
beelde pols soos wat golwe op die radio ook maak maar ook hoe jou
emosionele golwe op en af gaan.” Volgens hom is die boodskap dat musiek (veral oor die radio) ’n geleier is
vir die siel omdat dit golwe van herinneringe en emosie terug bring, goed of
sleg. Kyk die video hier: https://youtu.be/iDHe-8YsNHo ON THE RADIO volg in die voetspore van
talle groot radiotreffers, waaronder Ek Wil Jou Ken, Kaboemielies, Hou My Vas Stywer Vas, My Hart Het
Klaar Besluit, Jy Soen Soos ’n Engel, Vandag Maak Ek Jou My Vrou en vele meer. David sing al vandat hy ses
jaar oud is en wou nog altyd ’n musikant wees. Hy het die mark amptelik in 2002
betree nadat hy ’n finalis was op die Suid-Afrikaanse weergawe van die
musiekprogram, IDOLS. Kort daarna is sy eerste
album, Land in die Suide, uitgereik waarvoor hy in 2003 ’n SAMA-benoeming
ontvang het. Oor die jare het hy verskeie loopbaanhoogtepunte
bereik, waaronder openingsvertonings vir Westlife gedurende hulle
Suid-Afrikaanse toer en om uitgenooi te word om as spesiale gas by die
Eurovision-sangkompetisie op te tree in 2011. Hy het ook die wenliedjie, Running
Scared, opgeneem wat ’n groot treffer in Suid-Afrika was. Verder het hy ook
al die voorreg gehad om die Suid-Afrikaanse, Australiaanse en Skotse
volksliedere te sing tydens toetsrugby. Dié 42-jarige Vrystater woon tans in die Kaap saam met sy lewensmaat, Shaun.
Hy spog met ’n graad-ses-musiekkwalifikasie van Unisa en was deel van die
Bloemfonteinse Kinderkoor, wat in Duitsland en Switserland opgetree het. Hy het ook op ’n kol in Nieu-Seeland gewoon, gewerk en opgetree, voordat hy
onlangs weer teruggetrek het Suid-Afrika toe. David sou graag ’n sjef of ’n koskenner wou wees as hy ’n ander beroep moes
volg en hy moes op een stadium verslankingsprodukte verkoop om te oorleef toe
hy in Indië gebly het. Die musiekbedryf het hom geleer dat dit soms goed is om ’n blaaskans te vat
en weg te tree uit die kollig om jouself opnuut te ontdek en te vernuwe. Hy werk ook as ‘n kreatiwiteitsbestuurder vir ’n maatskappy in Nieu-Seeland
en maak Engelse studiemateriaal vir kinders regoor die wêreld. Hy is ook besig
om sy eie fiksheidsklerereeks te ontwikkel en gee musiekles vir kinders met
gestremdhede. Sy planne vir 2023 sluit heelwat nuwe
musiek in en hy beplan ook om aanlyn ’n liedjie op te neem saam met kinders in
Auckland, wat op die spektrum is en met fisiese uitdagings sukkel. ON THE RADIO is ’n knap verwerking van ’n
ou gunsteling, wat luisteraars lank sal bybly en jonk en oud sal bekoor. Dié besonderse herverwerking van ’n gewilde
treffer is simbolies van hoe David ook konstant besig is om homself te vernuwe,
want elke gewilde treffer verdien dit immers om soms ’n nuwe baadjie aan te
trek. “Die liedjie is regtig ’n
samevatting van my sterkpunte: my stem, klavierspel, kreatiwiteit, ritme en
emosie en dit is ’n herdenking wat erkenning gee aan ouer genres soos disco en
soul,” sluit hy af. Hierdie snit is nou beskikbaar
op digitale platforms. Kry dit hier: https://li.sten.to/ontheradio SOSIALEMEDIASKAKELS: Facebook: https://www.facebook.com/davidfouriepage/ Instagram: @davidfourinsta Twitter: @mydavidfourie TikTok: David Fourie